
=====================================================================
Die wel en wee van 'n politieke tolk (AV 5:2)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Die wel en wee van 'n politieke tolk

Julia Smuts   bring die kollig na 'n beroep wat in Suid-Afrika betreklik nuut is, waarvan net 'n handjie vol mense al ervaring het en wat 
hopelik vinnig sal groei.

HOE word 'n mens 'n tolk, veral as jy 'n broertjie dood het aan optree in die openbaar? Miskien is die geheim: Kies voor jou geboorte reg 
...

Soek vir jou ouers uit wat albei van huis uit Afrikaanssprekend was maar weens omstandighede van jongs af uitstekende Engels aangeleer het; 
sorg dat albei hul taalvaardigheid professioneel begin benut, eers as vertalers, daarna as onderskeidelik tweedetaal-leerkragte en 
taalkundedosente.

Sorg dat niks anders as suiwer, maar idiomatiese Afrikaans in die huis gebruik word nie totdat jou eerste skooldag aanbreek. Kies dan 'n 
Engelsmedium-skool waar die meeste leerkragte (en baie van jou maats se ouers) uit Engeland afkomstig is.

Luister minstens vier keer per dag radionuus (soms Engels, soms Afrikaans) en lees elke dag en ook naweke koerant.

Gaan studeer n matriek tale aan 'n oorwegend Afrikaansmedium-universiteit. Rond jou heeltydse nagraadse studie af met 'n diploma in 
vertaalkunde van 'n Engelsmedium-universiteit (waar jou hoofdosent 'n veeltalige Oos-Europer is).

Gaan hou 'n paar jaar skool (verkieslik tweedetaal-onderrig) en: Siedaar!

Toe die twee rade van die nuwe Suid-Afrikaanse Parlement, en indertyd ook nog die Grondwetskrywende Komitee, drie jaar gelede besluit om 
uitvoering te gee aan die verwesenliking van meertaligheid binne beleidmakende geledere, verneem 'n mede-vryskutvertaler of ek kans sien om 
my deur die twee baanbrekers van genoemde instansie se Hansard-afdeling te laat toets as aspirant "gelyktydige" tolk.

My eerste gedagte was natuurlik uit en in watter van my twee tale moet ek tolk? (gedagtig aan ons liewe vertaalkundedosent se waarskuwing 
dat sielkundiges dwarsoor die wreld daarop aandring dat tolke uit meer as een taal kan tolk, maar altyd slegs in hul moedertaal). Ek l 
toe sommer albei praktiese tolktoetse af -- en vaar, volgens die toetswaarnemers, ewe goed in albei rigtings.

Binne 'n week word ek genooi om gedurende 'n sitting van die Nasionale Vergadering in een van die tolkhokkies te kom "waarneem" hoe sake 
bedryf word. Dit was toevallig die span wat uit Engels in Afrikaans moes tolk. Dis die bedrywigste van alle spanne by die Parlement, want 
verreweg die meeste toesprake word in Engels gelewer. Daar sit ek toe 'n uur of wat doodluiters met die "muisore" aan en let versigtig op 
na die heen en weer skuif van die verskillende knoppies op die kontrolepaneel terwyl ek my verstom oor my (redelik onervare) "kajuitgenote" 
se bedrewenheid met die politieke uitdrukkings en toepaslike terminologie van die onderhawige wetsontwerp.

Skielik beduie die opleier vir my ek kan maar aanskakel en my stem verhef oor die mikrofoon! Tyd vir beswaarmaak was daar nie: die ander 
tolk in die hokkie knik ondersteunend in my rigting terwyl die volgende spreker al die podium bestyg. Ek sluk 'n slag en val noodgedwonge 
weg. Genadiglik was dit nie 'n besonder lang toespraak nie -- die betrokke lid het een van die kleinste opposisiepartye verteenwoordig. Hy 
kry selde meer as vyf of uiters agt minute om sy bydrae tot 'n debat te lewer.

Die tyd vir elke debat wat in die Nasionale Vergadering gevoer word, word plegtig "proporsioneel" ingedeel sodat elke party nagenoeg 
dieselfde persentasie van die toegelate tyd kry as die stempersentasie wat hulle in die verkiesing van 1994 behaal het. Vir ministers en/of 
adjunkministers geld geen tydsbeperking nie.

Wat die alledaagse werklikhede van hierdie ietwat ongewone beroep betref, is daar min wat jy kan doen om jou voor te berei vir wat 'n 
bepaalde wetsontwerp gaan oplewer. Ons tolkspannetjie werk gewoonlik in pare, maar omdat die Afrikaanse span heelwat meer praatwerk doen, 
kry ons gelukkig dikwels 'n derde spanmaat by.

Ons moet ons minstens 'n halfuur voor die aanvang van 'n debat, of Woensdagmiddae vir "Interpellasies en Vraetyd", in die tolkhokkie 
aanmeld om ons vertroud te maak met die terminologie van die verskillende wetsontwerpe wat bespreek gaan word.

(Laasgenoemde geld hoofsaaklik die Nasionale Vergadering, wat naastenby ses tot twaalf dae van elke maand vergader wat die Parlement nie op 
reses is nie; die ou Senaat het vroeg verlede jaar plek gemaak vir die Nasionale Raad van Provinsies, wat min vergader en waarvoor ons 
"kern-tolkspanne" selde werk.) Dit beteken dat ons nogal heelwat moet staatmaak op 'n kombinasie van algemene kennis, idiomatiese 
taalkennis van sowel die "brontaal" as die "teikentaal", 'n gladde tong ... en senuwees van staal!

Die brontaal het 'n paar van ons al noustrop laat trek, veral waar 'n agbare lid 'n woord f onduidelik uitgespreek, f doodgewoon verkeerd 
beklemtoon het. Daar is nie sprake van ophou om eers te lag of te probeer uitpluis wat die betrokke spreker nou regtig wou tuisbring nie 
...

Gelukkig is dit nie nodig dat enige parlementslid moet sukkel om deur middel van 'n tweede, derde of selfs vierde taal 'n parlementre 
toespraak aan te bied nie. Ons tolkdiens-administrasie is reeds geruime tyd so goed ingerig dat enige lid wat een van die ander ampstale 
(d.w.s. buiten Afrikaans of Engels) wil gebruik, slegs 24 uur kennis hoef te gee sodat relings getref kan word vir een van die Hansard-
verslaggewers, of selfs 'n vryskuttolk van buite, wat bedrewe is in daardie taal, om die verlangde diens te lewer.

Dit gebeur wl dat sekere agbare lede soms vergeet dat hulle nie vooraf kennis gegee het van hul voorneme om hul moedertaal te besig nie en 
wanneer hulle dan daarin wegval, word halsoorkop deur ons arme toesighouer geskarrel om telefonies inderhaas een van die beskikbare Hansard-
verslaggewers te ontbied. Di is natuurlik totaal onvoorbereid op die inhoud van die debat.

Die Parlement is nie die enigste "demokratiese beleidmakende instelling" wat tolke soos ons gebruik nie: die Wes-Kaapse parlement gebruik 
ook op kontrakbasis tolke wat uit Afrikaans in Engels moet werk -- maar, interessant genoeg, nie omgekeerd nie -- al is die meerderheid van 
die huidige lede van daardie liggaam waarskynlik moedertaalsprekers van Afrikaans. Daar is ook tolke wat oor en weer tussen Engels en Xhosa 
tolk.

Volgens die Wes-Kaap se nuwe Grondwet word nou erkenning gegee aan Afrikaans, Engels en Xhosa as die ampstale van di gebied, maar sedert 
einde Augustus 1996 is daar geen "gewone vertalers/redigeerders" op hierdie administrasie se diensstaat nie -- alle skriftelike tekste word 
uitgegee aan vryskuttolke, dikwels teen 'n aardige sommetjie.

Die Kaapse Metropolitaanse Raad maak ook gedurende sy maandelikse vergadering gebruik van 'n soortgelyke tolkdiens, hoewel die grootste 
aanvraag dr is na vertaling uit Engels in onderskeidelik Afrikaans en Xhosa.

Lede van die land se hoogste beleidmakende liggaam het elkeen sy eie styl van praat. Sommige is indrukwekkend veeltalig en laat ons klompie 
in die tolkhokkies lelik bontstaan as hulle so vinnig van een na 'n ander taal wip. Soms moet ons ten einde raad met 'n "kits-skepping" 
vorendag kom wanneer 'n bedrewe vakkundige 'n woord of uitdrukking beetkry wat 'n nuutjie is.

Wat is die hl moeilikste hedendaagse politieke term om in Afrikaans te probeer tolk? Probeer vinnig dink aan 'n idiomatiese en 
allesomvattende woord vir die begrip "African". Julia Smuts   is 'n vryskuttolk. Sy oorweeg om te emigreer om sekuriteit in haar beroep te 
probeer vind.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av5216.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- April 1998 /// Afrikaanssprekendes, word onmisbaar! (AV 5:2) /// Ywer 
uit onverwagte oord (AV 5:2) /// Produktiewe aksies moet daaruit voortkom (AV 5:2) /// Leeskring-inspirasie (AV 5:2) /// Een bre 
Afrikaanse front (AV 5:2) /// Die antwoord op: Hoe leer ek Afrikaans? (AV 5:2) /// Op die stoep gaan hulle skater van plesier (AV 5:2) /// 
Afrikaans: 'n nuttige stuk gereedskap (AV 5:2) /// Afrikaans vir die Afrikane? (AV 5:2) /// Afrikaanse bewegings moet besin oor oogmerke 
(AV 5:2) /// 'n Woordlint van land tot land (AV 5:2) /// Afrikaans gryp uitdagings (AV 5:2) /// Hoe stewig is die handevat? (AV 5:2) /// 'n 
Gelukkige huis lok vele vriende (AV 5:2) /// In die ban van Karoo-Afrikaans (AV 5:2) /// Die wel en wee van 'n politieke tolk (AV 5:2) /// 
'n Reis van selfontdekking (AV 5:2) /// Nederlands wil Kaaps raakvat (AV 5:2) /// Taalvriendskap is nou moontlik (AV 5:2) /// 'n Briljante 
seun, Meyer (AV 5:2) /// Sonde met die Cravense bure (AV 5:2) /// PALJAS, paljas is die as nou af? (AV 5:2) /// Die smeerstorie (AV 5:2) 
///

